NAKA PRAAT OOR AANWINS: Sadie


BLOEMFONTEIN. – Die Cheetahs sal volgende jaar se Super-reeks met die vier beste senters sedert die bestaan van dié streekspan se franchise in 2005 aandurf. Só sê afrigter Naka Drotské, nadat hy gister bevestig het dat die Bulls se Johann Sadie later vanjaar ’n Cheetah word. 

Sadie sluit hom op 1 November by die Cheetahs aan en het ’n tweejaarkontrak met dié sentrale streekspan gesluit. 

Sport24 het reeds verlede week eksklusief berig oor Sadie se skuif na die Cheetahs, nadat hy eers einde verlede jaar die Stormers vir die Bulls van Pretoria verruil het. 

Hy, Andries Strauss, Robert Ebersohn en Barry Geel is die senters wat reeds kontrakte met die Vrystaat gesluit het. 

Griekwas se senter-aanwinste, JP Nel en Stefan Watermeyer, het tot dusver net Curriebeker-kontrakte met die Poubloues gesluit en dit is nog onseker of hulle vir die Super-reeks oorweeg kan word. 

Drotské was gister verheug toe hy die kontrak met Sadie gefinaliseer het. 

“Ek dink hy sal baie goed in ons wedstrydplan (van hardlooprugby) inpas. 

“Om eerlik te wees, dink ek nie die Bulls se spelpatroon het sy rugby 100% gepas nie,” sê Drotské.

“Hy het hom reeds by die Stormers op Super-vlak as ’n aanvallende speler bewys. 

“Ek het min twyfel dat hy in ons stelsel sal gedy.

“Ek is ook opgewonde oor wat ons agterlyn ons volgende jaar op die aanval kan bied.

“Dis nou, veral as jy in ag neem dat Johan Goosen dan op losskakel sal wees en ’n mens uit die gekontrakteerde senters kan kies. 

“Andries het al internasionale rugby gespeel, Robert is ewe goed op binne- en buitesenter en Barry is ’n gehalte-binnesenter. Johann se kontraktering bied aan ons welkome diepte op buitesenter.”

- Sadie word die derde Stormers-buitesenter wat sedert 2007 ’n kontrak met die Cheetahs gesluit het in die hoop om sy loopbaan hier weer op koers te kry. 

In 2007 het die oud-Bok Marius Joubert die Vrystaat gehelp om die Curriebeker te behou, voordat hy na die Franse klubspan Clermont is en hom verlede jaar by die Sharks aangesluit het. 

Die speler wat Joubert destyds uit die kussings by die Stormers gelig het, Corné Uys, het hom in 2009 by die Cheetahs aangesluit. 

Ook hý het goeie spel in die Cheetahs-trui gelewer, voordat hy einde 2010 besluit het om sy loopbaan by die Newcastle Falcons te gaan voortsit. 

Sadie sal vanjaar nog Curriebeker-rugby vir die Bulle speel en met William Small-Smith en JJ Engelbrecht om ’n plek in die beginspan meeding. Vanaf Volksblad: Hendrik Cronjé